Jesus, the Crucified

 

"Jesus the Crucified"

by Nymph Kellerman

www.propatriamuseum.org.za

Jesus the Crucified is ʼn musiekdrama wat die kruisiging van Jesus Christus uitbeeld soos dit in die Evangelies in die Bybel vertel word. Dit begin by die laaste Avondmaal en word gevolg deur Jesus se gebed in die Tuin van Getsemane dat die lydensbeker by Hom moet verbygaan. Daarna volg sy verhoor voor Kajafas, Herodes en Pontius Pilatus, gevolg deur die marteling deur die Romeinse soldate.

Die drama volg die lydensweg volg totdat die prosessie by Golgota kom waar die kruisiging plaasvind. Die drama eindig met die opstanding van Jesus. Die Tshwane Gospel Choir tree op en is verantwoordelik vir die sang.

Nymph Kellerman is as sangeres en aktrise in die uitvoerende kunste sedert die begin van die 1980’s. Sy het drama en opera studeer aan Unisa asook die Akademie vir Drama en Kuns in Kaapstad waar sy haar lisensiaat in die uitvoerende kunste met drama as hoofvak verwerf het. Sy het in operas vir die destydse Kruik in Kaapstad gesing. Haar vokale adviseurs sluit in die internasionaal bekende Fred Dalberg (Nico Malan, Kaapstad), Sarie Lamprecht (SAUK) en George Fourie (Truk, Pretoria). Sy het meesterklasse in opera by die bekende Covent Garden-operahuis in Londen gehad onder leiding van die befaamde dame Vera Roza Nordell. Daarna het sy in Londen opgetree in verskeie produksies. By haar terugkoms in Suid-Afrika het sy in televisie, rolprente, verhoogproduksies gewerk en by heelwat vaardigheidsontwikkelingsprojekte betrokke geraak en dit ook gelei.

Die vertoning word aangebied ten bate van die Pro Patria Museum by die Voortrekkermonument, wat ten doel het om eer en erkenning te gee aan die historiese rol wat die Suid Afrikaanse Magte gespeel het om ʼn veilige en vredevolle omgewing te skep vir ordelike politieke oorgang en om die huidige en toekomstige geslagte te onderrig in hierdie geskiedenis en dit te bewaar. Tom Moodie, een van die drie direkteure van die Pro Patria Museum wat die vervaardiger is van hierdie produksie, en nou betrokke is by die inoefening van Jesus the Crucified merk op dat “dit ʼn voorreg is om soveel jong talent te sien ontwikkel onder uiterste bekwaamheid”. Kaartjies is beskikbaar by iTickets of die museum se webwerf.

Nymph is ook die regisseur van Bloedrivier tot Bosoorlog, die Pro Patria Museum se opvoering by die Voortrekkermonument tydens die Gelofteweek in Desember 2023.

Datum en plek van opvoering binnekort beskikbaar.